Rou in die Tyd van Covid-19

Die afsterwe van ‘n geliefde is baie swaar. Die afsterwe van ‘n geliefde tydens die Covid-19-pandemie is moeiliker as ooit tevore.

Ek het ’n “virtuele gedenkdiens” vir my oupa saamgestel deur huldeblyke via WhatsApp “voice notes” te versamel, asook ’n boodskap van ds Frik Smit van die NG gemeente Albertinia.

Met die hulp van ’n boesemvriendin, woonagtig in Kaapstad, is die opnames in ’n oudiodiens verwerk. Op hierdie besonderse wyse vergader ons almal een Sondag om 10:30 – elk in ons afsonderlike sitkamer – om afskeid te neem. Aussies, Britte, Duitsers, Kapenaars, Transvalers en Boesmanlanders voel vir een besonderse uur mekaar se nabyheid aan.

Natuurlik is dit nie ’n plaasvervanger vir die fisiese nabyheid van ons geliefdes nie. Hierdie klankopname is wel, tot vandag toe, vir ons ’n bron van troos. Die huidige era van digitale oorvloed beroof ons soms van verbeelding en introspeksie. Hierdie opname wek herinneringe – helderder as ’n slimfoonskerm – by my op: As ek my broer se stem hoor, voel ek die grein van ons ouerhuis se kombuistafel teen my knie skaaf, en die geborgenheid wat daarmee saam gaan.

Miskien is dít genade wat alle verstand te bowe gaan: God se liefde tussen ons, ten spyte van ontasbare afstand. Dit is grensloos en ontasbaar, maar onwerklik is dit ook nie. Ten spyte van hierdie grendeltyd, kan ons tog bymekaar kom, al is dit nie in die kerk nie.

Gedenkdienste vir Grendeltyd

Ek en my man leef al ses jaar in die buiteland. Soos met 820 000 ander emigrasiegesinne, is ons geliefdes reg oor die wêreld versprei. Met behulp van hedendaagse tegnologie het ons die kuns van kommunikasie oor kontinentale afstand vervolmaak. 

Met ‘n video-oproep vra ek my ouma om hulp: “Vleg ek die koeksister só?” My swaer wat ná die afloop van sy nagskof bel soos ons vir aandete aansit; die soet klank van my peetkind se eerste lag wat oor my oorfone speel soos ek per trein pendel; my oupa se stem oor ‘n blikkerige telefoonlyn toe ek hom ‘n geseënde Nuwejaar toewens: “ Ek gaan nie hierdie jaar maak nie, maar mag jy ‘n mooi jaar hê.”

Om huis toe te verlang, is deel van ‘n Suid-Afrikaanse emigrant se bestaan. Ons staal ons teen die pyn van verlange deur ‘n rits redes op te roep: stabiliteit, onafhanklikheid, onderhoud…  Met jou slimfoon is dit boonop so gerieflik om kontak te behou. 

Nietemin sit ons altyd ‘n geldjie vir ‘n vliegkaartjie weg, want soms raak die verlange onuithoudbaar.

Ek het hierdie jaar ‘n vliegtuigkaartjie nodig gehad. Ek sou baie graag my ma by my wou hê toe ek ná my breinoperasie uit narkose kom. Ek sou baie graag my oupa wou groet wat in daardie selfde week oorlede is.

My ouma se boodskap verskyn op ‘n koue selfoonskerm: “Ek kon nie eens my maat groet nie… ek kon net vir oulaas by die hospitaal se ingang my elmboog teen syne druk. Hy het in sy laaste oomblikke na my geroep. Ek kon nie daar wees nie.” Grendeltyd het ons van bystand en afskeid beroof.

Digitale media skep ‘n legio moontlikhede om met mekaar te kommunikeer. Ek hethuldeblyke via WhatsApp-stemboodskappe versamel en die klankopnames in ‘n afgerondegedenkdiens verwerk. Op hierdie besonderse wyse vergader ons almal – elk in sy/haar afsonderlike sitkamer – deur na die oudiodiens te luister. Aussies, Britte, Duitsers, Kapenaars, Transvalers en Boesmanlanders voel vir een besonderse uur mekaar se nabyheid aan.

‘n Virtuele gedenkdiens is nie ‘n plaasvervanger vir die fisiese nabyheid van ons geliefdes nie. Met die oudiodiens kon ons egter in ‘n spreekwoordelike kring sit en elke deelnemer kon met waardigheid kommunikeer: dié wat mompel, dié wie se hande van Parkinson se siekte bewe, dié wat halfpad deur hul huldeblyk begin huil, dié wat uitbundig kon lag oor ‘n vrolike herinnering. 

Hierdie oudiogedenkdiens kon vir ons as familie troos bied, sodaning dat dit my roeping geword het om my vaardighede in ‘n bediening te omskep. Ek is dankbaar dat ek ander families op hierdie wyse met my diens, Herklink, kan bystaan. 

Só skryf Helena van Schalkwyk: “Wat ‘n unieke en deernisvolle gedenkdiens wat Herklink met die heengaan van my moeder saamgestel het, in ‘n tyd waar ons, as gevolg van die Corona-pandemie, nie bymekaar kon wees nie. Ek het veral daarvan gehou dat die oudiodiens nie visueel was nie. Dit laat ‘n mens stil word om met aandag na die boodskap en die onthou-klankgrepe te luister. Hierdie oudiodiens is ‘n kosbare skat wat ‘n mens vir ewig kan bewaar om na te luister, en ‘n nagedagtenis om ons geliefdes te onthou.”

Ek het vir ‘n Suid-Afrikaanse familie, wat weens grendeltyd nie die VSA kon verlaat nie, ‘n gedenkdiens saamgestel. Vanaf my rekenaarskerm kon ek sien hoe almal inskakel om na die gedenkdiens te luister: geliefdes uit Washington, Ierland, Dubai, Wellington, Hong Kong, Dubai, Kaapstad. Dís rou in die Tyd van Covid-19. Dit is ‘n globale gebed. Dit is nabyheid in grendeltyd.