Diaspora vir Aandete



Hierdie artikel verskyn oorspronklik op Vrye Weekblad

Die tafel is onprakties. Die onkonvensionele ovaalvorm skep die illusie dat vier, of selfs ses, gaste ruim kan aansit. Sit jy egter aan die kop van die tafel, is jou wynglas gevaarlik naby aan jou gespreksgenoot se vurkhand op die lang sy. Probeer jy die tafel rek vir vyf, vra jou knieë gedurig of jy links, regs, of wydsbeen verby die swaar boekenhoutpote moet skuif. Die blad is ongelyk. Sonder ‘n tafeldoek wieg en wikkel die borde op die laste soos jy eet. Hier’s  ‘n keep, dáár ‘n duik, en in die middel loop daar ‘n dun wriemelende spoortjie van ‘n Laeveldse kewertjie wat ‘n eeu gelede in die boom nes gemaak het. Die tafel is oud.

Byna ‘n halfeeu gelede begin hierdie tafel sy reis om by my huis in Berlyn, Duitsland, aan te sluit. Die tafel was aan my skoonma deur haar skoonpa geskenk, wat dit in 1975 op ‘n mark in Pretoria gekoop en restoureer het. Vandaar is dit na hul eerste woonstel in Claremont, en  word later deel van die pakkaas wat in die vroeë 2000’s na Australië verhuis. Hier word die tafel aan my geskenk toe ek ook deel van die toenemende diaspora word. Ek was dankbaar vir elke meubelstuk wat nie uit ‘n Sweedse fabriek kom nie, en my skoonsibbe was heimlik dankbaar dat ek hulle van dié onpraktiese erfstuk kon verlos.

Toe die trekmaatskappy vra of die tafel ook moet saam, toe wonder ek hoekom die vraag vir my so dom voorkom. Natuurlik kom die tafel saam! Hierdie is nie net ‘n tafel nie. Met hout ontgin uit die buik van Afrika, gesmee met vakmanskap van voorsate wat hul kennis oor koue oseane saamgedra en oorgedra het, verteenwoordig hierdie tafel my erfenis. Om meubels te restoureer verg geduld, en al is die politiese oortuigings van my man se oupa onbekend, vind ek troos en  geborgenheid in die geimpliseerde waardes wat die tafel inhou.

Ek is bevoorreg om met hierdie tafel belas te wees en dit so saam met my te trek. Vir baie Suid-Afrikaanse emigrasiegesinne wat besluit om die land te verraai (sic), is dit nie moontlik om erfstukke saam te piekel nie. Baie van ons verkwansel alles wat ons kan, en begin met die bagasie wat in die vliegtuig se kajuit kon pas. Dit klink so belaglik, so kleinserig dat ons durf kla: ons het dan meer as genoeg, dit terwyl die oorgrote meerderheid van ons landsburgers met baie minder moet klaarkom. As jy hieroor kerm, is jy in elk geval nie dikvellig genoeg om die land se probleme aan te durf nie, so voertsek eerder!

Wat ook al die redes vir emigrasie is, bly dit ‘n moeilike besluit om huis en haard te skuif. Hierdie groep wat na hulself as “ekspats”, kort vir die Engelse “expatriate”, verwys, vorm deel van ‘n toenemende diaspora. Die WGO se 2020 Globale Migrasie-verslag bevind dat 272 miljoen mense tans buite hul geboorteland se grense woon en werk. In ‘n wêreldbevolking van 7.7 miljard, is een uit elke dertig mense dus “nie van hier rond nie”. 

Die verslag bied nie ‘n uitgebreide definisie vir hierdie spesifieke groep migrante nie, maar hulle word wel onder die afdeling “Ekonomiese Bydraes van Migrasiewerkers” uitgelig. Toe ‘n medepassasier op ‘n moltrein ‘n Afrikaanse gesprek tussen my en my man in die rede val, steek daar dus waarheid in díé vraag: “Nou, wie van julle twee is die CA?” 

Die redes hoekom ekspats kies om te emigreer is legio, maar juis daarin lê die sleutel: hulle het ‘n keuse. Asielsoekers, daarenteen, word immigrante. 

“Dit voel asof ek nie ‘n keuse het nie! Nou moet ek aan die gatkant van die wêreld bly omdat my man se werk dit vereis!” kla ek ‘n dekade gelede oor ‘n blikkerige langafstandoproep. My pa se klinkklaar antwoord boul my uit: “Jy’t gekies om met hom te trou.” Met ‘n skeut selfspot moes ek my bevoorregte posisie erken: “O, die treurmare van die ingevoerde bruid.”

Ingevoerde bruid of te not, om in ‘n nuwe land in te skakel is nie maklik nie. Soos ‘n verwronge Alkoholiste Anoniem vergadering sluit elke kennismaking ‘n verklaring vir jou herkoms in: “Ek is oorspronklik van Augrabies – dis net so ‘n duisend kilometer van Kaapstad.” Dáár kry my aksent, my onomwonde erfenis, ‘n plek op die atlas. Hoeveel ek oor my identiteit verklap, bly egter my keuse. Sommige mense verkies om selfs hul taal met die trek te laat vaar. Só het ek al met my eie oë gewaar hoe twee oudgetroudes by ‘n familiebyeenkoms in die Vrystaat ná twee jaar in Australië vir mekaar vra: “Kên joe plies paas de salt?”

Die vryheid van ‘n gestroopte identiteit kan verslawend wees, maar dit maak nie van jou ‘n tabula rasa nie. Arme Ferreira, wie se trek in ons volksmond verewig is, dra immer nog al swaar aan die een kant. Dit blyk universeel te wees: navorsers by Monash Universiteit in Melbourne vergelyk sedert 1991 emigrasie met ‘n rouproses . Hierdie proses is as “cultural bereavement”, oftewel, kulturele bedroef beskryf. 

Kulturele bedroef word deur ‘n ontwortelde persoon of groep ervaar ná die verlies aan sosiale strukture, kulturele waardes en gedeelde identiteit. Die persoon leef in die verlede, word deur bonatuurlike gestaltes in hul slaap besoek, dra skuldgevoelens rondom hul vertrek uit hul geboorteland, en ervaar pyn wanneer herinneringe vervaag. Traumatiese beelde uit die verlede kan egter by dié groep bly spook, en word dikwels herroep om die pyn van aanpassing in ‘n vreemde kultuur te regverdig. 

Lê kortliks besoek by een van die verskeidenheid sosiale media groepe vir Suid-Afrikaanse ekspats af – die grootste hiervan, “Aussiekaners” met 61,300 lede, en hierdie tema’s kom sterk na vore. Elke melktertresep bevat die bestanddele van geborgenheid, elke tjoppie op ‘n gasbraai vuur nostalgie aan. Wanneer iemand bieg dat die heimwee hulle wakker hou, is daar ‘n peloton kommentators wat gretig die “skrif aan die muur” uitlig: plaasmoorde, die val van die Rand, en ‘n gunsteling, KORRUPSIE!!!!

Die gemis sal egter bly, en is uniek tot elke persoon. Soos ‘n lid van die niche “Suid-Afrikaanse Christen Dames Oorsee” Facebook-groep haar lot bekla: “Ek het nog nie ‘n enkele wedergeborene ontmoet hier waar ek bly nie.” 

As dit ‘n keuse was om te gaan, behoort dit ‘n keuse te kan wees om terug te keer. Soms is die eerstewêreldse leefstyl nie die kulturele bedroef werd nie. Dalk is dít wat ‘n ekspat behoort te definieer: die hunkering, maar ook die vermoë om te kan terugkeer wanneer jou gees aan die een kant te swaar dra. 

Kenners aan die Universiteit van Luxembourg se Sentrum vir Kontemporêre en Digitale Geskiedenis het in 2019 jong Tsjeggiese Jode gevra hoe hulle oor die artefakte van hul voorsate wat die Holocaust oorleef het, voel. Die voorwerpe, onder andere briefies, foto’s, medaljes, is van een generasie na die volgende oorgedra. Herinneringe wat aan die polfyntjies gekoppel is, het vervaag, en sommige items het selfs die oorspronklike betekenis verloor. Huishoudelike items soos opskeplepels, eerder as religieuse voorwerpe soos gebedsboekies, dra vir die jonger generasie meer sentiment. Dit verteenwoordig ‘n gemeenskaplike herinnering van ‘n tyd van saamwees, samesyn, geborgenheid, noue familiebande, ‘n opgewondenheid oor die toekoms, eerder as ‘n ernstige herdenking van die slagting. 

Die tafel is aan my oorgedra deur ‘n sameloop van veel minder traumatiese gebeurtenisse, maar dalk is ek nie alleen in my versugting om die tafel so saam te sleep nie. Dalk is ek ook kultureel bedroef en het die tafel vir my ‘n bonatuurlike gestalte begin aanneem. Ek weet nou wat die tafel weet: dat haar enigste ware tuiste daar is waar haar mense is, maar dat sy moet onthou waar sy vandaan kom om opgewonde oor die toekoms te kan wees. Dit is asof die tafel hierdie jaar vir my sê: vat jou goed en trek. Huis toe.

One thought on “Diaspora vir Aandete

Laat 'n boodskap na Dr Christa van Staden Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: