Huiswaarts vir ‘n afskeid

IN die 18de eeu was slawe op die suikerplantasies in Amerika verbied om begrafnisse te hou – hul eienaars bevrees dat dit in muitery kon ontaard. Lyke is in ongemerkte grafte in onbewerkbare grond begrawe.

Mettertyd het selfs die mees geharde eienaars hul slawe toegelaat om begrafnisse te hou. Ongeag jou klas of kultuur blyk dit ’n skande te wees om ’n sterfte te misken.

Die lewe van ‘n slaaf was so haglik dat die dood as ’n vorm van vryheid beskou is. Vir baie slawe was hul tuiste in Afrika hul laaste ongeskonde herinnering aan vryheid. Wanneer die dood jou verlos, kon jou siel ongehinderd huis toe gaan om tot ruste te kom.

Die reis na dié troostende hiernamaals is met oorgawe gevier. Begrafnisdienste onder die slawegemeenskappe het dus ‘n feestelike trant gehad, en is as ‘n “homegoing”, of ‘n “huiswaarts” gevier. Om vry te wees, is om huis toe te mag gaan.

Grendeltyd het my laat besef hoe gesog hierdie vryheid moes wees. Soos 820,000 ander Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, het ek lankal vrede gemaak met die geleenthede wat ek verpas omdat ek myself elders gevestig het: my broerskind se geboorte; my ma se 60ste verjaardag, haar tweede jaar in remissie; die gebruiklike Sondagmiddagete; ‘n dierbare vriend se troue; Kersfeesvierings; blommetyd in Namakwaland.

Die afsterwe van my oupa was een van daardie geleenthede waar ek nie sou skroom om die duur reis terug na my geboorteland te onderneem nie. Ek sou inderhaas pak, my bestuurder in kennis stel dat ek op verlof gaan, en lughawe toe pendel.

By Kaapstad aangekom sal ek in ‘n huurkar klim en een van die mooiste paaie in ons land aandurf. Soos ek die fynbos langs die pad bewonder, sal ek dink hoe my oupa die spesies kon uitken. Duskant Mosselbaai sal ek begin uitkyk vir die huis met die groen dak – ‘n spioenspeletjie wat ek sedert kleintyd ken.

Ek sal op die straat parkeer, die inrit reeds beset deur nommerplate uit Natal, Boesmanland en die Hoёveld. My pa sal uitbundig lag soos hy my voosgesitte lyf teen syne vasdruk.‘n Slawebegrafnis om middernag in Suid-Carolina in die suide van Amerka in die negentiende eeu.
FOTO: Slavery Images: A Visual Record of the African Slave Trade and Slave Life in the Early African Diaspora

Rituele

In die dae wat volg, sal vriende en familie na die kusdorpie stroom. Bejaarde bure sal aanklop om te groet, beskuit aandra en kuier totdat ons stemme hees word. Ek sal op my broer afkom waar hy snikkend tussen my oupa se houtwerkgereedskap staan, en ek sal poog om hom met ‘n onbeholpe klop op die skouer te troos.

Ek sal my ouma gewaar waar sy my oupa se fluweelpak uit die hangkas haal. So asof hy nog in die pak staan, sal sy die moue twee flinke klappe gee om onsigbare stof weg te vee. “Hulle moet hierdie vir Oupa aantrek,” sal sy met ‘n moedige blik sê. Hierdie bevel sal ek by die begrafnisonderneming aan die ontvangsdame met die ingeoefende deernisvolle oë oordra.

Die volgende oggend sal die kerk vol wees. Ons sal oudergewoonte laat opdaag en ek sal myself tussen VLV-tannies bevind wanneer die koor met “Nader, my God, by U” lostrek. Die dominee sal Psalm 23 lees en sê hoe ek my op ‘n weersien kan verheug. Woede sal vlugtig in my opvlam: My oupa is dan dood, en ek gaan hom nooit weer sien nie. My hand sal soek na my man s’n, sy afwesigheid weens die onbekostigbare vliegtuigkaartjie skielik pynlik.  ‘n Kleuter sal kraai en diegene wat wou huil, sal uitbars van die lag.

Ná afloop van ‘n sombere gebed sal ons by die begraafplaas vergader. Die kis sal statig deur my oupa se nasate en vriende gedra word. Die gedenkdiensblaadjie sal in my sweterige hand begin kreukel. Wanneer die begrafnisondernemer aandui dat ons ‘n hand vol gruis oor die kis moet strooi, sal die harde klang van klip teen hout my effens laat skrik. Die metafoor sal my skielik oorweldig en ‘n vaakheid, aangehelp deur dors en skerp sonlig, sal my oorval.

In ‘n samehorige waas sal ons in die kerksaal saamdrom. Trooskos sal bedien word om almal op te kikker: brandewyntertjies, frikkadelle, skons, tee en port. In hierdie enge kringetjie van familie, vriende en gemeentelede sal ‘n vrede oor my daal. Hierdie oomblik waar ons onsself toelaat om kamma-weerloos te wees, sal my geborge laat voel. Selfs al draai die wêreld teen ’n hengse spoed, kan ek daarin berus dat hierdie onbaatsugtige ritueeltjie belangrik sal bly. Daar is tog nog plekke en oomblikke waar ek tuis voel.

Onsigbare, werklike konneksie

Maar grendeltyd het ons van ‘n huiswaarts beroof. My ouma se boodskap flits oor ‘n koue selfoonskerm: “Ek kon nie eens my maat groet nie … ek kon net vir oulaas by die hospitaal se ingang my elmboog teen syne druk. Hy het in sy laaste oomblikke na my geroep. Ek kon nie daar wees nie.”

Die konneksie wat Afro-Amerikaanse slawe met hul tuiste gehad het, was onsigbaar, tog werklik. Ek is bevoorreg dat die internet vandag vir my ‘n onsigbare, tog tasbare konneksie met my tuiste bied. Ek kan kontak maak, ten spyte van onoorkombare grense. Ek het geweet ‘n “zoom-begrafnis” sou die afsluiting waarna ek gesmag het, net besoedel.

Nietemin skep digitale media ‘n legio moontlikhede om met mekaar te kommunikeer. Ek het huldeblyke via WhatsApp-stemboodskappe versamel en die klankopnames in ‘n afgeronde diens verwerk. Op hierdie besonderse wyse vergader ons almal – elk in sy/haar afsonderlike sitkamer – deur na die oudiodiens te luister. Aussies, Britte, Duitsers, Kapenaars, Transvalers en Boesmanlanders voel vir een besonderse uur mekaar se nabyheid aan.

’n Virtuele gedenkdiens is nie ‘n plaasvervanger vir die fisieke nabyheid van ons geliefdes nie. Met die oudiodiens kon ons egter in ‘n spreekwoordelike kring sit en elke deelnemer kon met waardigheid kommunikeer: dié wat mompel, dié wie se hande van Parkinson se siekte bewe, dié wat halfpad deur hul huldeblyk begin huil, dié wat uitbundig kon lag oor ‘n vrolike herinnering. Die formaat is besonders omdat mense se voorkoms nie hul boodskap oorskadu nie. Ek was gevolglik meer ontvanklik vir dít wat mense gedeel het.

Vandag vier swart Amerikaners hul feestelike begrafnisdienste as ‘n erfenis wat eie aan hul kultuur is – ‘n simboliese weerstand teen ‘n onderdrukkende wit kultuur. My oupa se gedenkdiens is ‘n simbool van rou in grendeltyd. ’n Jaar later is dit vir my ’n simbool van rou in ‘n geglobaliseerde wêreld. Ek is nie alleen op hierdie reis nie. Dit het my roeping geword om ander op hierdie reis te vergesel, waar ek vir families gedenkdiensbegeleiding via herklink.co.za aanbied. Wanneer my kliënt via die webwerf inskakel, kan ek op my analisebord sien hoe geliefdes van heinde en verre die virtuele diens bywoon. Dit vorm ‘n beeld van rou in ‘n era van diaspora, maar dis ook ’n padkaart na geborgenheid. Dit skilder ‘n hemel in Afrika.

Hierdie artikel het eers in Vrye Weekblad op 7 September 2021 verskyn.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: