Sit dit af, sit dit af. Dis kaf.

Anelia Heese van Herklink help families om waardige virtuele begrafnisdienste tydens grendeltyd te reël. Sy sal egter doen wat sy kan sodat ons mekaar weer kan omarm wanneer ons rou. Hier spreek sy anti vaxxers aan oor hul roekeloosheid.

FOPNUUS.

Dit klink so lighartig, soos ‘n 1 April-grappie. ‘n Brokkie wat jou die poets bak, goedhartig, met ‘n skeut selfspot. Om te fop is om te fnuik, ‘n onskadelike namaaksel.

‘n Fopspeen is uiteraard ‘n nuttige vervalsing, ‘n kitsoplossing wat ‘n baba fnuik dat die wêreld nie in duie stort nie. Allermins, nie in daardie stadium wanneer jou arms vasgebind is deur ‘n string inkopiesakke nie, of deur moegheid verlam is nie.

Vir ‘n jong ouer is ‘n grootouer wat ‘n ontembare kleuter tot kalmte kan bring ‘n reddingsboei.

Maar die pandemie het dié van ons wat so saam met die Nuwe Suid-Afrika ons melktande verloor het, in drie groepe laat spartel. Die eerste groep is dié wie se ouers die afgelope jaar oorlede is. Baie van hulle moes asemloos en alleen die wêreld groet, en ons is van afskeid beroof.

Dan is daar die tweede groep, dié wie se ouers die pandemie tot dusver oorleef het. Hulle is – op ‘n afstand – nog met ons, danksy die noodlot of genade van Bo. Hoe dit ookal sy, baie van ons word dit ontneem om by hulle te wees. Hul bydrae as ouer en grootouer is tot ‘n langafstandoproep beperk.

Die res van ons word deur fopnuus uitmekaar gedryf en wees gelaat. Baie Afrikaanssprekendes bo die ouderdom van 60 is steeds onwillig om die Covid-19-inenting te kry. Vir ons as jul kinders is dit ‘n doodsvonnis waarteen ons met dieselfde ywer as JZ se regspan appèl sal aanteken. Hier sal ons soos beterwetende tieners stry en reguit skree: Jul vrees is ongegrond, onwetenskaplik, onverskillig.

WhatsApp- en Facebook-boodskappe wat angs aanvuur oor stekelproteïen. ‘n Veearts wat beweer dat maskers die Covid-19-virus kweek, dat dit bloot die gewone griep is, dat dit alles ‘n sameswering deur die regering is om die privaat sfeer te skaad, ‘n skreeudiker wat dit as die merk van die dier bestempel. Fopnuus sou seker snaaks wees as dit nie lewensgevaarlik was nie.

Hierdie “berigte”, “lesings” en “studies” is nie bloot fopnuus nie. Ek sou dit eerder as waninligting bestempel. Die voorvoegsel, “wan”, só vertel my oud-Afrikaansonderwyseres my, beteken “sleg”. Haar Namakwalandse aksent benadruk dit met gravitas: “slêggg.” Wanhoop is slegte hoop,  misdaad ‘n reeks wandade.

Om waningelig te wees is om soos ‘n besetene in die duister te strompel en vir almal bo die oppervlak te sê húlle is blind.

Woorde dra gewig. Ons praat van ‘n hartoorplanting, nie ‘n hartvervanging nie. ‘n Kunsmatige staalpen word vir ‘n heupvervanging gebruik, maar ‘n hartoorplanting vereis ‘n onbaatsugtige, biologiese skenker.

Die Covid-19-inenting is nie ‘n rekenaar of boosaardige bonatuurlike wese wat in jou liggaam gespuit word nie. Ek hoor deesdae mense praat oor die radio van “vaksiene” terwyl ons, vir ‘n jong taal, reeds oor die woord “inenting” beskik.

Die etimologie van die woord kom uit die natuur. Om iets te ent, is om ‘n sterker onderstok te gebruik wat die gewas weerstandiger teen siektes maak. In die medisyne is ‘n inenting ‘n “lewende, natuurlike element” wat jou liggaamselle leer om sterker te word.

Om ingeënt te word is egter al so verpolitiseer dat dit as ‘n “persoonlike keuse” uitgemaak word. Dit is onwaar, want deur jouself vatbaar vir Covid-19 te maak, kan jy nog steeds die virus aan ander oordra wat daaraan gáán sterf. Soos ‘n dronkaard wat beweer: “Dit is my persjoonlike keusje om nou agter die sjtuur in te sjkuif.”

Kenners sê – in akademiese, gereguleerde publikasies – dat mense wat misken of onderdruk voel meer vatbaar vir waninligting is. Dis te verstane dat hulle so vatbaar vir waninligting is soos wat hulle vir die virus is. Die wêreld waarin hulle hul melktande verloor het, het buitendien hul oudag baie anders voorspel: ‘n minderheidsregering wat hul belange tot die dood sou beskerm.

Die vorige keer toe die Suid-Afrikaanse regering ‘n noodtoestand afgekondig het, het die land asem opgehou. Dit kon veel erger uitgedraai het, maar dit het nie, juis omdat julle daarin geslaag het om kalm te bly. Die land snak nou weer na asem. As ons weier dat waninligting ons tot waansinnige vrees dryf, hoef hierdie noodtoestand nie vir ewig aan te hou nie.

Ek het my Afrikaansonderwyseres gevra wanneer sy beplan om af te tree. “Ek wil darem nog een jaar aanbly om vir oulaas die kinders te sien rondhardloop.” Ek is bly sy het nog ‘n bydrae om te lewer. Ek hoop sy het haar laat inent.

Want hoe vinniger julle ingeënt word, hoe vinniger kan ons almal weer onverskrokke ‘n teug vars lug inneem. Sodat ons “Nkosi sikelel’ iAfrika” kan sing. Kan jubel tot die kranse antwoord gee. That we can sound the call to come together. Vir jou, Suid-Afrika.

[Skrywe oorspronklik in Vrye Weekblad, 6 Augustus 2021]

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: