‘n Skrikkeljaar vol vrees

17 Maart 2021: een volle jaar van krisisbestuur om die pandemie te steier, en hier sit ons nou. Hier, waar ons bevoorreg is om ‘n dak bo ons koppe te hê, selfs al is ons elke dag onder dieselfde, enkele dak omdat ons moes tuis bly. Ons moes tuis bly, maar vir dié van ons wat in die buiteland leef, was ons bloot by die huis.

Die afgelope jaar het baie van ons laat skrik. Miskien het jy skrik gekry vir die verlange wat in jou kom sit het toe ons forseer word om te bly sit. Dalk het jy in een stadium geglo dat Suid-Afrika nie meer vir jou plek het nie, maar die pandemie het jou laat besef dat dit jou enigste tuiste is.

Toe ons moes sit en tone tel, het dit onomwonde ‘n geleentheid vir bestekopname geword. Die wolkekrabbers of die bloekoms oor die horison tel nie wanneer ons van ‘n tuiskoms beroof word nie. Ons sit met ‘n knaende verlange wat slegs deur die oop horisonne onder die Afrikason geklop kan word.

Dalk is dit in ons Afrikaners se bloed: hierdie versugting na ‘n oop, ongeskonde horison wanneer angs in ons kom sit. Vir ons Afrikaner voorvaders was daar ‘n koste aan hierdie ongeskonde horisonne verbonde. Die balansstaat toon ‘n rekord van opoffering en uitbuiting.

Kennisnemendes het pandemies voorspel. Ons is gewaarsku dat die uitbuiting van die natuur en die ongelykheid tussen dié wat eet en dié wat honger ly, tot ‘n verlies gaan lei. Wanneer ons die weerloses nie beskerm nie, bied die mure wat ons om ons bou geen beskerming nie. 

Ons skend die omgewing, tog herroep ons ‘n beeld uit die natuur wat die einde van hierdie pandemie beskryf. Die Engelse term, “herd immunity” verwys na die beskutting wat geskep word wanneer genoeg mense, nadat hulle in aanraking met ‘n aansteeklike virus gekom het, weer aansterk. Hierdie samehorige eenheid van immuniteit skep dan verdere beskerming vir die weerloses wat aan die virus sál omkom.

Mense kies nie noodwendig om weerloos te wees nie. Dalk was dit die noodlot, of sistemiese onreg. Om almal oor dieselfde kam te skeer bied onvoldoende beskerming teen die aanslag van hierdie dodelike virus. 

Ons kan nie die weerloses teen die noodlot beskerm nie, maar ons kan deur opoffering ongelykheid aanspreek. Die pandemie is ‘n duur les oor uitbuiting, en dit is ‘n les wat ons as Afrikaners al te goed ken. Die prys wat sommiges van ons hiervoor betaal is om onder ‘n vreemde kudde, wat in ‘n taal blêr wat ons nie ken nie, te wag totdat genoeg mense aansterk voordat ons kan terugkeer. 

Enige boer of veldkenner sal vir jou kan sê, ‘n ooi ken haar lam en sal aanhou roep. Dit het drie skrikkeljare geduur, maar die Boesmanland het reën gekry en die gras is nou baie groener.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: