Twee Kontinente vir Kersfees

Ek skryf uit ‘n koue, donker Duitsland. Soggens wend die son sy beste probeerslag aan om gesig te wys, en gee vóór tjailatyd moed op. Hierdie jaar voel die winter ‘n bietjie kouer, ‘n bietjie donkerder. Onder normale omstandighede sou die strate met die soet reuk van “glühwein”, wat tydens Advent verkoop word, gevul wees. Grendeltyd maak dit egter onmoontlik – die eeueoue Kersmark is afgeskaf.

“Glühwein” kan direk as “gloei” en “wyn” vertaal word: warm rooiwyn versnit met kaneel, koljander en naeltjies. Dis ‘n feestelike drankie wat jou binneste met die vreugde van samesyn laat gloei. 

Kersfees in Europa is ‘n sprokie. Die strate blink onder goue kersliggies, die dakke lê snoesig onder gevlokte sneeu. Dis juis dit: ‘n sprokie, ‘n halwe waarheid. ‘n Mens kan nie vir ewig in ‘n sprokieswêreld leef nie. In  een of ander stadium moet ‘n mens weer huis toe gaan. En Kerstyd is huis toe gaan-tyd.

Hoewel ek die fabelagtige winter hier geniet, smag my siel na Desembermaand op die plaas. Kerstyd op Augrabies: waar ons nie wyn nodig het om te gloei nie, want die son ken geen skaamte nie. Niemand is op vakansie nie, want in Desember is dit oestyd. 

Almal spartel soos kaiings op ‘n rooster om klaar gewerk te kry. 

Met Oukersaand skep ons vinnig asem.  Tafels word buite gedek. Dis te warm in die kombuis om skaapboud te maak, ons braai eerder. Die aartappelslaai is ‘n koel laafnis. Daar is nie groenslaai nie, want teen die tyd wat die vleis gereed is, het die blare reeds verlep. Kinders word vir nagereg rivier toe gestuur, waar waatlemoenskille met ‘n breё glimlag die rivier afdryf. 

Ná ete is dit Kersspel. Swemhanddoeke vir die herders se tulbande, ‘n stoepbesem met ‘n springbokvelletjie oor  word ‘n donkie. Goud, wierrook en mirre is ‘n toegedraaide boksie Nestlé Quality Street. Twee verse uit Lukas 2, en dan is dit “Stille Nag”. 

Môre jaag die hitte ons vroeg uit die vere uit. Ongeag die aangeleentheid is ons oudergewoonte laat vir die erediens. Die gemeente se bariton sing “When A Tjaaild Is Born” met oorgawe. Daar is ‘n samehorigheid wanneer almal die siedende kerkgebou verlaat. Mans skud blad. Opgedolliede tannies word deur almal, van die predikant tot die prokureur, op die lippe gepik. Kinders staan in ongemaklike Sondagpakkies rond, sommige spog met nuwe speelgoed. Ons wens mekaar ‘n geseënde Kersfees toe en keer terug na ‘n oase van oorskiet.

Suid-Afrikaanse emigrante sal vir my sê hierdie Kersfees is ‘n mite. Sien ek dan nie die misdaad, die moord, die val van die rand nie? Word tog wakker! 

Ek moet bieg, ja, dalk is dit nie meer so nie. Dalk was Kerstyd nooit só nie. Maar, die storie van Jesus se geboorte is ook ‘n sprokie: die onskuldige maagd, die engele, die gasvryheid van die herbergier, die duursame geskenke… dalk is dit verdigsel. Daar was rowers op die pad, blindes, melaatses, ‘n korrupte koning! 

Kersfees vertel die verhaal van die geboorte van ‘n Messias. Dit is egter ook ‘n verhaal van twee mense wat ‘n spesiale gebeurtenis – die geboorte van hul eerste kind – in ‘n vreemde land, onder moeilike omstandighede, moes deurmaak. 

Ek is seker Maria sou eerder tuis wou wees, met haar suster aan haar sy. Josef sou dalk graag sy kind se koppie in ‘n mooi wiegie wou neerlê. Die eerste Kersfees vertel ‘n verhaal van ‘n spesiale geleentheid wat vir Josef en Maria nie volgens plan verloop het nie. 

Hierdie Kersfees gaan vir baie van ons nie volgens plan verloop nie. My plan was om huis toe te vlieg, by Kaapstad se lughawe in ‘n huurkar te klim, die lang pad na Augrabies aan te durf, my swaar winterjas uit te trek, die son op my lyf te voel. 

Hierdie jaar se planne vir Kersfees werk nie so mooi uit nie. Ek is nie tuis nie. My familie is nie naby nie. 

Ek is egter steeds van plan om mense te nooi vir ‘n fees, aldus ‘n kleiner fees. Dit sal nie sprokiesmooi wees nie, maar dit sal ‘n geleentheid skep om nuwe lewe, die Lewe, te vier. Teen Kerstyd het die son reeds gedraai, en die somer is weer op pad.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: