Hoeveel keer begin ek deesdae ‘n brief met die sinnetjie: “Ek skryf uit ‘n koue Duitsland, 12 500km van my tuisdorp af…”
Om huis toe te verlang, is al vir jare deel van my identiteit as ‘n Suid-Afrikaner wat in die buiteland leef. Hierdie unieke verlange voel soms soos ‘n wingerdloot wat stomp afgesnoei word. Dit is ongenaakbaar, maar dit laat ruimte vir nuwe groei.
Tydens grendeltyd word hierdie verlange verwronge in rou. Ek rou soos ‘n boer wat haar oes moet afskryf weens ‘n onsigbare pes wat aan die wortels vreet. Tydens oestyd bedank ons die Aarde vir goeie weer; en mekaar, vir harde werk. Ek verpas hierdie lonende tyd: my ma se sestigste verjaarsdag, haar tweede jaar in remissie; my pa in die fleur van sy aftrede; my broerskind wat leer praat; vriende wat trou; blommetyd in Namakwaland.
Daar sal ‘n tyd kom waar ek weer hierin kan deel. Daar is egter een ding wat vir ewig ‘n verlies sal wees: die verlies wat my oupa agterlaat.
‘n Nuwe seisoen laat nie ‘n groot boom wat geval het, weer toe om te bloei nie. Met dit in gedagte, het ek vir my oupa ‘n oudio-gedenkdiens saamgestel deur huldeblyke te versamel en dit in ‘n professionele oudiodiens te verwerk. Ons kon reg oor die wêreld daarna luister, elk in ons afsonderlike sitkamers… ‘n Globale danksegging.
Ongeag hoe dor hierdie seisoen mag voorkom, moet ons aanhou werk en aanhou dien. Ek is bevoorreg om dit met Herklink te kan doen. Twee families het na my uitgereik om vir ‘n geliefde ‘n oudiodiens saam te stel. Helena van Schalkwyk skryf:
“Wat ‘n unieke en deernisvolle gedenkdiens wat Herklink met die heengaan van my moeder saamgestel het, in ‘n tyd waar ons, as gevolg van die Corona-pandemie, nie bymekaar kon wees nie. Hierdie oudiodiens is ‘n kosbare skat wat ‘n mens vir ewig kan bewaar om na te luister, en ‘n nagedagtenis om ons geliefdes te onthou.”
Baie jare het verstryk sedert Matriek, maar ek het nogtans my Afrikaanse onderwyseres om hulp gevra aangaande taaloorsig vir Herklink. Ons ouderdomsverskil beloop dekades, maar die pen bly jonk, en haar rooipen bly flink. In grendeltyd ruil ons spelfoute uit, asook ‘n gedig of twee:
geleende woorde vir geleende tyd
uit die digters se monde
ons gespreksgenote
in die oggende verlaat ons ons herd
en stap blootsvoets deur die strate
waar ons oor die duwweldorings loop
met lang bene blink in die lig
laat ons dus ons liggeeldae opteken
vir wanneer die donker ons kom haal
en die Here ons nie meer soek nie
want die lewe is ‘n asem lank
laat ons luister na die klank uit die mond
want die wêreld is ‘n groot blou bal
wat stil deur die ruimte val
en ons kom en ons gaan is
soos water uit die kraan
2020 was vir baie van ons nie maklik nie, maar dit het ‘n geleentheid geskep vir groei. Mag ons hierdie nuwe jaar sterker groei deur elke daad van deernis en omgee.
Met erkenning aan: Wilma Stockenström, Jean Goosen, Ingrid Jonker, Hunter Kennedy, Breyten Breytenbach, Johannes Kerkorrel